Hier is ‘n storie wat ek minstens ‘n dekade gelede geskryf het. Ek plaas dit nou vir ingeval Jan dalk weer laatnag wakker is.
Die Rooi Onderbroek
Dit was ’n snikhete warm Karoodag … die dag van die rooi onderbroek. Die hittegolwe het soos ’n drukkende teenwoordigheid op die Karoovlaktes gerus. Die doodse stilte van warm en windlose Karoodae wat stadsmense nie ken nie, het in die atmosfeer oorheers.
Muleki het nog skaars ’n week by die Oubaas op Doudagdrif gewerk. Op sestien het sy agterstewe geen onnodige dae op skoolbanke deurgesit nie. Hy het by die volk op die buurplaas gewoon, maar Muleki was nie een van hulle kinders nie. Min van die volksmense sou kon sê wie se kind Muleki nou eintlik was. Hy was maar net ook daar.
Graaf in die hand was sy nuwe routine waaroor hy geen werklike idees gehad het nie. Voorheen het Muleki net rondom die volk se huise en in die veld rondgedwaal, maar die Oubaas op Doudagdrif het ’n ekstra hand gesoek en Muleki was al wat daar was.
Hy was daardie dag besig om ’n lappie grond om te spit vir ’n nuwe groentetuintjie wat die Oubaas in die agtertuin wou aanlê. Die Oubaas, soos almal hom maar geken het, was totaal groentetuintjie verskrik.
’n Voël het dié oggend iewers in die lug geskreeu net voordat Muleki ’n oomblik gaan stilstaan het. Sy oë was vasgenael op ’n niks iewers voor hom in die vêrte. Die soveelste druppeltjie sweet het op daardie oomblik teen sy blink slape afgeloop. Dors! – was die enkele gedagte in sy kop.
Graaf in die hand al skrapende agterna het hy sleepvoet begin aanstap na die voorkant van die huis waar die tuinkraan tussen ’n bossie en ’n boom in die koelte gewag het.
Maar by die hoek van die huis het Muleki vasgesteek. Tussen hom en die kraan het die Oubaas in die voorste groentetuin gehurk gesit waar die wortels en beet geplant was. Sy ou, dik, vingers het oor die grond gedeelte binne sy bereik gedawer en telkens klein stingels en bossies onkruid uit die grond tussen sy geliefde wortels en beet getrek. Een knie was op die grond, die ander in die lug. So gekniel het die Oubaas gesit en onkruid uittrek. ’n Hopie onkruid het reeds langs die Oubaas versamel gelê. Sy kaal kop was blink gesweet en daar was nat kolle rondom sy kraag en onder sy arms. Die taak het duidelik inspanning van die ou man geverg. Sy ligte geruite hemp het aan die onderkant uit die broek opgetrek en sy kakie kortbroek het na onder getrek. Tussen die wegtrekende broek en hemp kon Muleki die rek en materiaal van ’n rooi onderbroek onder die kakiebroek sien uitsteek. Net bo dit was ’n sagte stukkie bleek vel, ’n deel wat danksy die kakiebroek nooit die son gesien het nie.
Diep binne, iewers op ’n weggesteekte vlak van die onderbewussyn het Muleki op daardie oomblik besef dat hy nog nooit ’n onderbroek besit of aangehad het nie. Hy was miskien nie eers heeltemal seker oor wat die woord vir ’n onderbroek was nie.
Daar was geen warboel van gedagtes of idees in Muleki se kop oor hoe dit sou voel om ’n onderbroek aan te hê of oor hoe ’n onderbroek aan hom sou lyk nie. Hy het op daardie oomblik ook nie gedink aan die flentergat kort langbroek wat hy aangehad het of aan sy verslete T-hemp wat agter die huis oor ’n tak gehang het nie. In der waarheid is dit te betwyfel of daar werklik enige verwoordbare gedagtes op daardie oomblik deur Muleki se oorwegend ongeletterde brein gegaan het. Daar was ook definitief geen opweeg van gevolge of selfs ’n besluit om op te tree nie.
Die beweging in Muleki se liggaam – wat na die vassteek op die hoek van die huis gevolg het – was bloot soos die beweging van die wolke in lugstrome, soos boomblare in die wind, ’n vloeiende, onwillekeurige beweging.
Die paar treë na die Oubaas en die swaai van die graafsteel was in perfekte ritme met mekaar en die stilte van die dag. Die geluid van die graaf op die skedel van die ou man het net in Muleki se kop weergalm. In werklikheid was dit ’n versameling dowwe klanke op die Karoovlakte wat teen niks kon vasslaan nie en geen krag gehad het om vêr te trek nie. Die digtheid van die hitte in die lug het alle klank gesmoor en die bloed geluidloos uit die Oubaas se kop oor die grond en die beet en die wortels laat loop. Klankloos het die bloed ook op Muleki gespat en met die afkyk het hy ’n druppel van die taaierige, sagte vloeistof gesien vorm op sy linker tepel, waar sy hemp sou gewees het, as dit nie so warm was nie. Die bloed het ’n druppel gevorm, maar die druppel het nie geval nie.
Dít was slegs die tweede oomblik van kleur in die lewe van Muleki en hy het sy dors met die eerste een reeds vergeet.
***
‘Wel, in my dag des lewens …’ het die inspekteur gedink toe hy die eerste keer behoorlik afkyk na die ou man in die groentetuin. Die inspekteur is van die polisie op Cradock na die moordtoneel ingeroep. Sy naam was Doep of Rassie of Blackie of so iets met die bypassende van. Hy het al baie wilddiewe op sy dag vasgetrek en daardie dag was ook geensins die eerste ‘plaasmoord’ waarby hy op die toneel was nie. Maar ’n bejaarde boer wat met sy gesig in die grond en met ’n oopgekapte skedel broekloos in sy groentetuin lê … dít het nie deel gevorm van sy verwysingsraamwerk nie.
Die inspekteur, soos sy rang aandui, was ook al lank genoeg in die Mag om te geweet het dat misdaad inherent ’n eenvoudige ding is, waar dinge ook maar meestal is soos dit lyk, al lyk dit vreemd. En geen ervare speurder sou verby die feit kon kyk dat die enigste vermiste item op die ganse luukse plaas die ou man se onderbroek was nie. Hy kon ’n prentjie vorm van ’n ou man wat ’n booswig met ’n onderbroek probeer afkoop, net soos hy ook natuurlik die moontlikheid kon oorweeg dat die ou man nooit op die fatale dag ’n onderbroek aangehad het nie. (Miskien was die ou man nie heeltemal so gewoon as wat hy gelyk het nie.) Maar dié onwaarskynlikhede sou nog steeds ’n vraag laat oor hoekom die ou man dan ook met ’n verwyderde kortbroek dood in die groentetuin aangetref is – ’n kortbroek wat agtergelaat is. ’n Man trek tog nie sy broek uit as hy warm kry nie.
Die inspekteur het reeds sy vermoedens gehad. Die hemp wat agter oor ’n tak naby die half omgedolwe grond gelê het, het gedui op die teenwoordigheid van ’n tuinhulp wat onder hierdie omstandighede, hoogs verdag, nêrens te vinde was nie.
Dít was nog voordat die huishulp van die volk se huise af gekom het om die hemp as Muleki s’n te identifiseer.
‘Leki …’ was eers al wat die huishulp kon uitkry met die aanskou van die hemp. Later, met ’n bietjie suikerwater in, kon sy darem ‘Muleki Dlamini’ sê.
Die huishulp, wat net elke tweede dag gewerk het, kon ook sonder veel moeite soos iemand wat al baie navorsing oor die saak gedoen het, vir die polisie uitwys dat die Oubaas se rooi onderbroek die enigste een was wat nie netjies op sy plek in die kas opgevou was nie. Sy het tog immers die onderbroek self daar gebêre. Die toneelondersoekers het ’n perfekte stel vingerafdrukke van die graafsteel gelig.
Maar dit was nooit nodig nie.
***
Met die onderbroek warm aan sy lyf, het Muleki net reguit verby die kraan geloop. Hy het die hele dag oor die Karoovlakte verby vaal graspolle en stekelrige bossies deur die droë rivierloop, oor die bure se plaas en tot by die grootpad geloop. Daar het Muleki ’n oomblik of wat, ons weet nie hoe lank nie, vasgesteek en na die horison gekyk. Met sy gehawende broek, sy harde voete en die droë bloed oral oor sy kaal bolyf het hy dalk meer na ’n verdwaalde skaapslagter as ’n moordenaar gelyk.
Net daar langs die pad, met die Karoovlakte wat aan die ander kant so ver lê as ’n mens kan sien, het hy gestaan. Hy was gedagteloos, soos vroeër daardie dag, en soos hy tot ’n mate miskien altyd maar gedagteloos was. Net hy, die man wat nooit ’n gedagte geleer het nie, alleen daar langs die pad in die skemeruur starend na die oranje gloed van die sakkende son. Alles om hom het weggeraak in daardie gloed.
Sy besluit was miskien om daarheen te gaan, maar ’n mens sou nie werklik kon sê wat Muleki gedink het, voor hy sy reguit dwaaltog oor die hoofpad in die rigting van die sonsondergang voortgesit het nie.
Die bestuurder van die aankomende motor het ook nie juis kans gekry om te dink voordat Muleki skielik voor hom ingestap het nie.
As Muleki ooit iewers in sy brein ’n verduideliking vir die oomblikke van kleur en die rooi onderbroek kon verwoord, het daardie waarskynlik ongevormde woorde in elk geval gesterf, toe sy kop die teer op die hoofpad tref.
***
‘Wel, in my dag des lewens …’ het die inspekteur later die tweede keer daardie dag gedink, terwyl hy met ’n flitslig na die tweede gapende skedel van dieselfde Karoo-vier-en-twintig-uur gekyk het. Toe het hy by die lyk gehurk en met sy wysvinger versigtig die bo-naat van Muleki se verflenterde broek opgelig om die rooi onderbroek te sien.
‘In my dag des lewens …’ het die inspekteur geprewel.