Waar ek woon

Veranderd, maar steeds nuut: my jongste poging tot poësie.

Waar ek woon
ken ons nie werklik winter nie,
net
koue fronte
Bewolkte dae bring
geen reën -
net leë Beloftes -
en dou is die enigste
druppels wat klou
en kleef teen ruite en rame
soos weggeslukte trane

Waar ek woon
fluister Vlambome in Augustus
teen sonop en sononder
’n eed van kleur
oor ’n bloeisel-kleed 
in November
oor mooi weer in Desember

Waar ek woon blom
Jakarandas uit pas -
Oktober tot lank ná nuwe jaar
en baksteenmure bars, buig, sug
en staan skeef soos ’n ou man se rug

Kanariegeel verf gemeng met ’n braaivleisvuur
se as
is die kleur van die winter se gras en
die strate staan geraam met
bome van vergane geslagte
en die frons van tyd geëts in hul baste

Waar ek woon
tel ek te vroeg in Augustus
die sente wat moes
hou
tot die lente

en elke maand
is myle langer as Desember
maar dieselfde son skyn
hier
as op enige ander
plek


11 Augustus 2017


 

2 thoughts on “Waar ek woon”

Leave a Reply