Van kind en klip

Dié gedig het ontstaan deels danksy ‘n kollega van my. Hy hou ‘n kompetisie waarin hy die kinders vra om gedigte te skryf oor die boom en die klip in die skool se vierkant.  Ek was reeds besig met “Waar ek woon” … waarin daar altyd bome sou wees  … en toe dit eindelik klaar was, kon ek nie help om tog in die rigting van klippe en kinders te dink nie.

Wat ek hier nog kan byvoeg, vir agtergrond, is dat “Waar ek woon” iets is wat ek baie lank al wou geskryf het. Die idee was jare binne my. Dit het lank gevat om by die woorde te kom.  Ook hierdie gedig kom van ver.

Van kind en klip

klipkerk

‘n Kind is nie ‘n klip nie
al het hy iewers–
sonder om te smeek–
van rots of krans
van
aardkors
of
groter heelal
afgebreek

‘n Kind is nie ‘n klip nie
al is hy as en stof

’n Klip glip, gly, rol
en reis
in alluviale lande
en skuur geleidelik glad óf grof

’n Kind is nie ’n klip nie
al word gruisklippies krakend gekners
wanneer swaar stewels
ongenaakbaar pers

’n Kind is nie ’n klip nie
’n klip lê
vasgesweer
in sand en grond wat
water en wind oor jare deponeer

Gaan dan heen mens
en grawe
sandsteen en leiklip
goud en diamante

en waar jy ook al
onraad merk
bou jy ’n
kerk

 

 

3 September 2017

 

 

Leave a Reply