Die allermooiste Afrikaanse gedigte

Die allermooiste Afrikaanse gedigte is nie in Opperman of Brink se afgryslik uitgedunde samevattings nie – nie in drie dele en amper drie duisend blaaie nie. Alhoewel ek goddank bly is om hulle te hê.

R92, Exclusive Books uitverkoping: “Valreep / Stirrup-Cup” – voor dit ken jy nie Elisabeth Eybers nie.

Jeanne Goosen se “’n Uil vlieg weg” – OK, ek kannie regtig sê waar ek dit gekry het nie. So ook sal ek swyg oor, wel, ’n paar ander.

Ai, ek vrek oor Jeanne, nie soos familie nie, veel gevaarliker … die dik jas is geen beskerming teen die skerpsinnige nie.

Nooit is ’n tyd wat nie aanbreek nie.

Soek nou maar in daai Groot Verseboek vir Antjie se “Hier waar ek nou is” of “ode vir ’n ander lewe”  – dekades uitmekaar, maar jy soek verniet.

TT Cloete op ’n uitverkoping … drie kopieë van “Uit die hoek van my oog” … my heel beste R45 belegging.

Later lees jy Hennie Aucamp was eerste “Voëlvry” met ’n “B.A. Sonder Liefde”.

“Omtoorvuur” en “die asem wat ekstase is”, “met die aarde praat”, “Patzers” en “Depressie in die Melkweg”.

Die heel mooiste gedigte 
omsluit die heel ergste pyn 
verlei jou tot nog ’n glasie 
of sommer ’n hele bottel wyn 
en nog ’n keer 
kwyn 
my beste voornemens 
vir vroeg gaan slaap 
in woorde 
sonder daad.

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *